top of page

Bergamot essensiële olie

  • Carina Falck
  • Mar 15
  • 3 min read

'n Interessante olie met 'n menigte gebruike.
'n Interessante olie met 'n menigte gebruike.

Bergamot is deel van die sitrusgenus, en is, soos lemoene en suurlemoen, 'n resultaat van verbouing. Bergamot is 'n baster van bitter lemoen en suurlemoen, maar omdat dit uiters bitter en suur is, is dit nie eetbaar nie. Die essensiële olie word van die skil van die Bergamot-vrug verkry.

 

Gesog in parfumerie

Die olie word hoog aangeslaan in die parfuumbedryf en baie keurige parfuums soos Armani My Way, Armaf Club de Nuit vir mans, Jo Malone Oud & Bergamot, Tom Ford Black Orchid, Yves Saint Laurent Black Opium en Aqua Allegoria Bergamote Calabria deur Guerlain, en Jean Paul Gaultier Ultra Male en La Belle, het dit onderskeidelik as bestanddeel vir mans en vroue.

As jy belangstel om meer te wete te kom oor Bergamot in die parfuumbedryf, sal jy 'n fassinerende artikel oor die onderwerp hier vind.

 

Earl Grey Tee

Bergamot is verantwoordelik vir die keurige smaak van Earl Grey-tee. Earl Grey Tea word gemaak deur óf die essensiële olie by swart teeblare te voeg, óf deur van die Bergamot-skil met die swart teeblare te meng. Jy kan meer oor Earl Grey-tee hier lees.


Aroma

Bergamot se aroma herinner aan blomme, hoewel die olie van die vrugte se skil gemaak word. Dit is subtiel dog lewendig.

’n Interessante eienskap is dat dié olie die aroma van mengsels balanseer – as jy die effek van ’n spesifieke olie in ’n mengsel verkeerd beoordeel het en dit oorweldigend vind, sal ’n paar druppels Bergamot die mengsel tot ’n aangenamer aroma herstel. Dit kan ook gebruik word om die aroma van mengsels met 'n sterk medisinale reuk te verbeter.

 

Terapeutiese eienskappe

Emosioneel

Bergamot bied veelsydige emosionele ondersteuning aangesien dit 'n opbouende dog kalmerende effek het.  Dit word gebruik om depressie, spanning en  angs te behandel. Die oorkoepelende effek is dié van herstel en balans.  

Gebruik Bergamot om onderdrukte woede te help ontlont. Dit is 'n uiters nuttige eienskap van Bergamot, aangesien opgekropte emosies tot depressie, slapeloosheid, angs en gemoed-skommelings kan lei.

Die geur van Bergamot help ook om selfvertroue te herwin en is gerusstellend. Bergamot is ook word ook gedurende ‘n rouproses aanbeveel.


Spysverteringstelsel

Bergamot behandel die onderliggende stres in anorexia nervosa en is oor die algemeen nuttig vir diegene wat hul eetlus verloor as gevolg van stres.

Om 'n bietjie Earl Grey-tee na 'n groot maaltyd te drink, is baie nuttig om met vertering te help, en om winderigheid en spysvertering-ongemak te verlig.

 

Effektiewe kombinasies.

’n Kombinasie van Bergamot, Roosmaryn en Sitroengras of Verbena is emosioneel stimulerend, verfrissend en opbouend.

 

Gekombineer met Jasmyn en Ilang-Ilang, versterk Bergamot op fisieke vlak, bv. wanneer jy van siekte herstel.

 

Natuurlike aangetrokkenheid tot dié olie.

Mense met 'n ligter en vreugdevolle benadering tot die lewe hou blykbaar instinktief van Bergamot.

Bergamot-mense is ook dikwels diegene wat omgee, bedagsaam en vol energie is.

 


Bronne:

Battaglia, S.

The complete guide to aromatherapy, 2 nd edition.

The International Centre of Holistic Aromatherapy, Brisbane, Australia, 2003

P261-262

 

Fischer-Rizzi, S.

Complete Aromatherapy Handbook, English Edition 1990.

Sterling publishing Company Inc. New York USA. pp 70 - 76.

 

Disclaimer

The use of essential oils must be done responsibly and does not replace any medical treatment. It is used at your own risk.

 

 

 
 
 

Comments


bottom of page